Belydenis Skrifte

Die Apostoliese Geloofsbelydenis

Die Apostoliese Geloofsbelydenis, ook bekend as die Twaalf Artikels van die Christelike Geloof, is een van die oudste en mees wydverspreide belydenisskrifte binne die Christendom dit het ontwikkel uit vroeër Christelike belydenisse en tradisies in die eerste paar eeue na Christus. Die belydenis dien as ‘n kort samevatting van Christelike kernleerstellings en word gebruik in ‘n verskeidenheid kerklike tradisies.  Dit bly ‘n kragtige uitdrukking van die gemeenskaplike geloof wat Christene regoor die wêreld en deur die geskiedenis verbind.

Die Apostoliese Geloofsbelydenis bestaan uit twaalf dele of “artikels” wat saam die grondslae van die Christelike geloof uiteensit, soos verstaan deur die vroeë kerk.

  1.  Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde;
  2.  en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  3.  wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria;
  4.  wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en neergedaal het na die hel. 
  5.  Hy het op die derde dag opgestaan uit die dood;
  6.  opgevaar na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
  7.  waarvandaan Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel.
  8.  Ek glo in die Heilige Gees;
  9.  Ek glo aan ‘n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  10.  die vergewing van sondes;
  11.  die opstanding van die liggaam
  12.  en ‘n ewige lewe.

Die Geloofsbelydenis van Nicéa

Die Geloofsbelydenis van Nicéa beklemtoon die volle godheid van Jesus Christus, verklarend dat Hy “God uit God, Lig uit Lig, ware God uit ware God” is, en dat Hy “gebore is, nie gemaak nie, van een wese met die Vader”. Deur so te doen, verwerp dit die Arianisme en bevestig die leerstelling van die Drie-eenheid – dat die Vader, die Seun, en die Heilige Gees drie persone is in een Godheid, gelyk in wese en ewig.

Die belydenis vermeld ook die geloof in die Heilige Gees, wat “saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik word”. Alhoewel die gedeelte oor die Heilige Gees in die oorspronklike weergawe van 325 n.C. kort was, is dit in 381 n.C. by die Konsilie van Konstantinopel uitgebrei om die Heilige Gees se godheid en sy rol in die kerk te beklemtoon.

Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge;
en in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore:
Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God,
gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader,
deur wie alles tot stand gekom het.
Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword; Hy het mens geword;
onder Pontius Pilatus is Hy vir ons gekruisig;
Hy het gely en is begrawe.
Op die derde dag het Hy volgens die Skrifte opgestaan,
en Hy het na die hemel opgevaar.
Hy sit aan die regterhand van die Vader, en Hy sal met heerlikheid terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel.
Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.
Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak.
Hy gaan van die Vader en die Seun uit, en Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik.
Hy het deur die profete gespreek.
Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk.
Ons bely een doop tot vergifnis van die sondes.
Ons verwag die opstanding van die dooies
en die lewe van die toekomstige bedeling.
Amen.

Die Geloofsbelydenis van Athanasius

Die Geloofsbelydenis van Athanasius, is ‘n vroeë Christelike belydenis wat sterk klem lê op die leer van die Drie-eenheid en die twee nature van Christus. Dit beklemtoon dat daar een God is in drie persone—Vader, Seun, en Heilige Gees—wat gelyk in eer en wese is. Dit verwerp enige dwaalleer wat die goddelikheid of mensheid van Christus sou ondermyn, en beklemtoon dat die regte begrip van die Drie-eenheid en die menswording van Christus noodsaaklik is vir die verlossing van ons sondes.  Hierdie belydenis speel ‘n sentrale rol in die Gereformeerde tradisie en word beskou as ‘n fondament en die regte of reglynige leerstellings en praktyke van die Christendom. 

  1.  Vir elkeen wat salig wil word, is dit in die eerste plek nodig dat hy die algemene geloof moet vashou.
  2.  As iemand dit nie heeltemal en ongeskonde bewaar nie, sal hy sonder twyfel ewig verlore gaan.
  3.  Die algemene geloof is: Ons moet die een God in die Drieheid en die Drieheid in die Eenheid eer,
  4.  sonder om die persone te vermeng of die wese te deel.
  5.  Want die persoon van die Vader is ‘n ander, dié van die Seun is ‘n ander, dié van die Heilige Gees is ‘n ander.
  6.  Tog het die Vader en die Seun en die Heilige Gees een Godheid, gelyke eer en gelyke ewige heerlikheid.
  7.  Soos die Vader is, so is ook die Seun en ook die Heilige Gees.
  8.  Die Vader is ongeskape, die Seun is ongeskape, die Heilige Gees is ongeskape;
  9.  onmeetlik is die Vader, onmeetlik is die Seun, onmeetlik is die Heilige Gees;
  10.  die Vader is ewig, die Seun is ewig, die Heilige Gees is ewig.
  11.  Nogtans is daar nie drie ewiges nie maar een Ewige,
  12.  net soos daar ook nie drie ongeskapenes of drie onmeetlikes is nie maar een Ongeskapene en een Onmeetlike.
  13.  Eweneens is die Vader almagtig, die Seun almagtig, die Heilige Gees almagtig;
  14.  en tog is daar nie drie almagtiges nie maar een Almagtige.
  15.  So ook is die Vader God, die Seun God, die Heilige Gees God;
  16.  en tog is daar nie drie gode nie maar een God.
  17.  Net so is die Vader Here, die Seun Here, die Heilige Gees Here;
  18.  en tog is daar nie drie heres nie maar een Here.
  19.  Want soos ons deur die Christelike waarheid gedwing word om elke Persoon afsonderlik God en Here te noem,
  20.  word ons ook deur die algemene geloof verbied om drie gode of heres te bely.
  21.  Die Vader is deur niemand gemaak of geskep of gegenereer nie;
  22.  die Seun is deur die Vader alleen nie gemaak of geskep nie maar gegenereer;
  23.  die Heilige Gees is deur die Vader en die Seun nie gemaak of geskep of gegenereer nie maar gaan van Hulle uit.
  24.  So is daar dan een Vader, nie drie vaders nie; een Seun, nie drie seuns nie; een Heilige Gees, nie drie heilige geeste nie.
  25.  En in hierdie Drieheid is daar nie eerste of laaste nie, nie meeste of minste nie,
  26.  maar al drie Persone het gelyke ewigheid en is heeltemal aan mekaar gelyk,
  27.  sodat in alle opsigte, soos hierbo gesê is, die Eenheid in die Drieheid en die Drieheid in die Eenheid geëer moet word.
  28.  Wie dus salig wil word, moet so oor die Drie-eenheid dink.
  29.  Maar vir die ewige saligheid is dit nodig dat hy ook getrou aan die menswording van ons Here Jesus Christus moet glo.
  30.  So is die regte geloof dan: Ons glo en bely dat ons Here Jesus Christus, die Seun van God, tegelyk God én mens is.
  31.  Hy is God uit die Wese van die Vader, voor alle tye gegenereer, en mens uit die wese van sy moeder, in die tyd gebore;
  32.  volkome God, volkome mens met ‘n redelike siel en menslike vlees,
  33.  na die Godheid aan die Vader gelyk, na die mensheid minder as die Vader.
  34.  En alhoewel Hy God en mens is, is Hy nogtans nie twee nie maar een Christus.
  35.  Hy is een, nie deur verandering van die Godheid in die vlees nie maar deur die aanneming van die mensheid in God.
  36.  Hy is in alle opsigte een, nie deur vermenging van die wese nie maar deur die eenheid van die Persoon.
  37.  Want soos die redelike siel en die vlees een mens is, so is God en mens een Christus,
  38.  wat ter wille van ons saligheid gely het. Hy het die lyding van die hel ondergaan*. Hy het op die derde dag uit die dood opgestaan,
  39.  na die hemel opgevaar het en aan die regterhand van God, die almagtige Vader, sit.
  40.  Daarvandaan sal Hy kom om die lewendes en die dooies te oordeel.
  41.  By sy koms sal alle mens, met hulle liggame, opstaan
  42.  en van hulle eie werke moet rekenskap gee.
  43.  En die wat goed gedoen het, sal die ewige lewe ingaan, maar die wat sonde gedoen het, in die ewige vuur.
  44.  Dit is die algemene geloof; en as iemand dit nie getrou en vas glo nie, sal hy nie salig kan word nie.

Drie Formuliere van Enigheid

Die Drie Formuliere van Enigheid is drie belydenisskrifte wat in die Gereformeerde kerke, veral in die Nederlandse Gereformeerde tradisie, aanvaar word as die standaard formulering van die gereformeerde geloofsleer. Hierdie dokumente is bedoel om die leerstellings van die Gereformeerde geloof duidelik uiteen te sit en te verdedig teenoor ander interpretasies van die Christelike geloof, veral teenoor die Rooms-Katolieke Kerk en die Anabaptiste. Die drie belydenisskrifte is:

Saam vorm hierdie drie dokumente die grondslag van die Gereformeerde geloofsleer en dien hulle as ‘n belangrike bron van teologiese oriëntasie en identiteit vir Gereformeerde kerke regoor die wêreld.